<< Vorige pagina

14 maart 2018

Eenders & Anders: Afrikaans-Nederlandse lespakket vir Afrikaans in Afrika


Wie van de leden van de Orde van den Prince wist dat het Nederlands tot 1984 een officiële taal in Zuid-Afrika was? Hoe zit het met het Afrikaans in Zuid-Afrika, in het verleden en het heden? Wat doet de Orde in Zuid-Afrika om de banden met Nederland en Vlaanderen aan te halen en hoe ondersteunen afdelingen in de Lage Landen dat streven? Lees hierover een achtergrondartikel dat is opgesteld door de afdeling Kaap de Goede Hoop. In het Afrikaans. En ja, dat is een stuk makkelijker dan het lijkt.

 

In 1652 sit die Nederlandse taal voet aan wal aan die suiderpunt van Afrika toe ’n handjievol Nederlandse skepelinge in opdrag van die V.O.C. (Vereenighde Oostindische g’octrooijeerde Compagnie) aan die Kaap de Goede Hoop ’n “rendezvous en sterckte” kom vestig wat mettertyd sou uitgroei tot ’n kolonie. Tot in die twintigste eeu is Nederlands as kultuurtaal gebruik in Suid-Afrika, later sy aan sy met Afrikaans, die algemene omgangstaal wat deur kontak met die ander tale aan die Kaap ontstaan het. Tot so onlangs as 1984 was Nederlands nog een van die amptelike tale van Suid-Afrika, en tot sowat dertig jaar gelede was dit nog deel van die skoolvak Afrikaans Eerste Taal in die hoërskool, waarna dit uitgefaseer is.

 

Ontstaansgeskiedenis

 

SASNEV, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere, het sy oorsprong in die testament van die Nederlandse mynmagnaat Ebel Hero Ebels (1897-1976), iemand wat Suid-Afrika sy tuiste gemaak het. SASNEV ontstaan in 1997 uit Ebels se erflating en is die tuiste van kulturele gemeenskaplikheid tussen Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere.

In onlangse jare, ná die einde van apartheid in 1994, is daar toenemend belangstelling in die (her)verkenning van Afrikaanse en Nederlandse taal- en kultuurbande. Dit het by SASNEV die besef laat ontstaan dat ʼn goed saamgestelde lespakket hieroor ʼn uiters waardevolle bydrae sou kon maak, en hierdie besef, op sy beurt, het gelei tot die ontstaan van Eenders & Anders, ’n Afrikaans-Nederlandse lespakket vir moedertaalsprekers van Afrikaans.

 

 

Doelgroep

 

Toe met navorsing hiervoor begin is, was die eerste gedagte dat die pakket op eerstejaarstudente aan universiteite gemik moet word, omdat dit in daardie stadium slegs op universiteit was dat studente formeel met die Nederlandse taal en letterkunde kennis kon maak. SASNEV het dus met studente en dosente aan Suid-Afrikaanse universiteite begin konsulteer, asook met buitelandse taal- en opvoedkundiges, waaronder ook lede van die Orde van den Prince. Gou het die sentrum egter besef dat die lespakket se doelgroep hoërskoolleerders moet wees en nie universiteitstudente nie. Veral omdat daar die afgelope dertig jaar geen Nederlands op skool was nie, het die deur vir die Nederlandse taal op skoolvlak stadigaan begin toegaan. Dit het duidelik geword dat daar ’n veel groter rendement op belegging sou wees indien Suid-Afrikaanse jongmense reeds op ’n veel vroeër leeftyd met die Nederlandse taal en letterkunde in aanraking gebring kon word.

 

Skool en klaskamer

 

Met dié nuwe insigte verskuif die fokus toe weg van die universiteit en lesinglokaal na die skool en klaskamer, met inagneming van die feit dat die materiaal en aanbiedingswyse sou moes voldoen aan die vereistes van die amptelik neergelegde onderwyskurrikulum.

In Suid-Afrika is die skoolsisteem effens anders as in Nederland en Vlaandere. Graad 7 is die finale klas van die laerskool en is vergelykbaar met die 'brugklas' in Nederland. In die Suid-Afrikaanse laerskool is daar drie fases: Grondslagfase (Gr. 1 – 3); Intermediêre fase (Gr. 4 – 6) en Senior Fase (Gr. 7). In Suid-Afrika het die hoërskool (in Nederland word verwys na die 'middelbare skool') vyf leerjare (Gr. 8 – 12), terwyl Nederland ses het.

 

Doel en temas

 

Eenders & Anders het ten doel om Suid-Afrikaanse leerders wat Afrikaans as huistaal neem aan die Nederlandse en Vlaamse taal, kultuur en letterkunde bekend te stel. Enersyds word op ooreenkomste gelet – dinge wat in Suid-Afrika, Nederland en België (Vlaandere) dieselfde is. Andersyds word ondersoek in watter opsigte dié lande en tale van mekaar verskil. Eenders & Anders is ’n reeks lespakkette vir graad 6 tot graad 11. Vir elke graad is daar ’n relevante tema, ’n leerderboek en ’n onderwysersgids wat saam ’n pakket uitmaak. Die hele reeks bestaan dus uit 12 boeke.

 

Graad 6 (vergelykbaar met groep 8): Aangename kennis! – Prettig met je kennis te maken!

Graad 7 (laaste jaar laerskool, vergelykbaar met die “brugklas”): Koningskos – Een koningsmaal

Graad 8 (1e jaar middelbare skool): Ridders en rolmodelle – Ridders en rolmodellen

Graad 9 (2e jaar middelbare skool): Fietsry – Fietsen

Graad 10 (3e jaar middelbare skool): Kampeer – Kamperen

Graad 11 (4e jaar middelbare skool): Sprokie vir ’n stadskind – Sprookje voor een stadskind

 

Dit is dus met groot genoegdoening dat SASNEV in Januarie 2018, nadat Nederlands sowat dertig jaar lank heeltemal afwesig was uit Suid-Afrikaanse skole, die heel eerste Afrikaans-Nederlandse lespakket vir skole in Suid-Afrika van stapel kon stuur.

 

Bestuur en finansies

 

SASNEV is ’n private nieregeringsorganisasie sonder winsoogmerk wat die Nederlands-Vlaamse taal en kultuur op ’n permanente, deurlopende grondslag in Suid-Afrika bevorder. Die sentrum se betrokkenheid by die Nederlandse taal is nie maar net ’n Wes-Kaapse verskynsel nie – dit blyk uit onder meer SASNEV se jaarlikse nasionale boektoer en die landwye bekendstelling van die lespakkette. Die organisasies wat tans finansieel tot SASNEV bydra, is die oprigter van SASNEV, die Willem de Zwijger-stichting, en die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland, hoof-finansier van SASNEV se projekte. Die ander enkele grootste bydraer tot SASNEV se projekte is die Orde van den Prince, wat sedert 2011 elke jaar die lespakketprojek finansieel ondersteun het.

Oor die afgelope twintig jaar het die bystand van beide stigtings hierbo genoem bygedra tot ’n groot uitstraling van die 'Nederlandse' ruimte in en ver buite die Kaapse hoofkwartier van die organisasie. SASNEV is vandag, ná meer as twintig jaar, ’n onmisbare spilpunt van Nederlands-Vlaamse en ook Afrikaanse kulturele aktiwiteite.

 

30 miljoen

 

Eenders & Anders het ons geleer dat Afrikaans die moedertaal is van 7 miljoen Suid-Afrikaners. Nederlands is die taal van ongeveer 17 miljoen Nederlanders in Nederland en sowat 6 miljoen Vlaminge in België. Dus is ons altesaam 30 miljoen mense wat almal mekaar so min of meer verstaan. Die uitwissselingsmoontlikhede in hierdie taalgemeenskap is onbeperk – en ook grootliks onontgin.

’n Interessante bonus is die 'kwartetspel' wat as deel van die pakkette ontwikkel is. ’n Stel volkleurkaarte wat by die onderwysersgidse vir graad 6 tot 8 ingesluit is, word gebruik vir ’n tipies Hollandse kaartspel wat die leerders op ’n prettige manier aan Nederland en België bekend stel.

 

Drietalige webwerf

 

Die drietalige webwerf (Afrikaans, Nederlands en Engels) www.lespakket.co.za is spesiaal vir die lespakket ontwikkel. Hier kan besonderhede oor die ontstaan en inhoud van die lespakkette gevind word en kan ook bestellings geplaas word.

Die omvangryke taak om die lespakkette landwyd bekend te stel lê nou voor. Op streekvlak is skole en vennote oor die afgelope sewe jaar geïdentifiseer om saam met SASNEV hierdie groot taak aan te pak.

 


Die bekendstelling van Eenders & Anders op die jaarlikse Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch. Jan Mutton (voorsitter SASNEV), Eureka Barnard (direkteur SASNEV), Elmari Rautenbach (hoof US Woordfees Skrywersprogram), Marieta Nel (skrywer Eenders & Anders), Bonnie Horbach (konsulgeneraal Nederland), Carla Lang (eindredakteur Eenders & Anders) en Nicol Stassen (hoofdirekteur Protea Boekhuis).

 

 

Orde van den Prince

 

Die Orde van den Prince befonds sedert 2011 SASNEV se lespakketprojek. Oor ʼn periode van sewe jaar – dus, tydens die kritieke ontwikkelingsfase – het ʼn konstante finansiële bydrae van die Orde dit vir die sentrum moontlik gemaak om die projek op koers te hou nieteenstaande potensieel problematiese verwikkelinge soos die verskuiwing in doelgroep en die verandering van uitgewer. Dié steun het SASNEV in staat gestel om nou, in 2018, een van die innoverendste taalverruimingsinisiatiewe in ʼn lang tyd vir Afrikaans en ook Nederlands in Suid-Afrika te loods.

Uit erkenning vir hierdie onvoorwaardelike steun is die logo van die Orde van den Prince aangebring op al die lespakkette en alle publisiteitsmateriaal. Hierdie steun aan SASNEV deur die Orde, asook die ondersteuning van die lede wat hulle tyd vir proeflees beskikbaar gestel het, bewys dat dit inderdaad vir die Orde gaan om die uitdra van die sleutelbegrippe 'amicitia' (vriendskap) en 'tolerantia' (verdraagsaamheid). Sonder hierdie vriendskap en verdraagsaamheid van die Orde van den Prince, soos betoon deur sy bestuurstrukture en lede-netwerke oor ʼn hele aantal jare heen, sou dié mooi eindproduk nie moontlik gewees het nie. Gratias vobis ago!

 

Eureka Barnard

 

 

Opgedra aan Guido Dutry vir sy versiendheid

 

 

 

Eureka Barnard

 

Is die bestuurshoof en projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands, Kaapstad. Voordat sy betrokke geraak het by die sentrum was sy reeds jare lank werksaam as kultuurpraktisyn in verskeie staats- en ander kultuur- en erfenisstrukture in die Wes-Kaapprovinsie. Sy verwerf in 2003 aan die Universiteit van Stellenbosch Suid-Afrika haar meestersgraad, wat handel oor die Volksboukunde van Swellendam en omgewing. Sy is lid van die Orde afdeling Kaap de Goede Hoop.

 

Bronne

https://nl.wikipedia.org/wiki/Nederlands_in_Zuid-Afrika

http://voertaal.nu/kaapse-sentrum-n-kulturele-tuiste-vir-die-nederlandse-taal-en-letterkunde-suid-afrika/


Reacties



Terug naar overzicht »